+
“Want as U ‘n offer verlang het, sou ek dit gegee het. In brandoffers sal U geen behae hê nie. ‘n Offer aan God is ‘n verbryselde gees; ‘n verbryselde en vernederde hart sal God nie verag nie.”
Voor ek iets oor ons Evangelieteks sê, kom ons plaas dit eers in konteks. Vandag begin die Triodion, die drie weke wat die Groot Vastyd vooraf gaan. Die Skrifgedeeltes en dienste gee daarom vir ons riglyne oor hoe ons dit moet benader.
Ons gelykenis vandag handel met geestelike hoë bloeddruk. Hoë bloeddruk word die stille moordenaar genoem, want daar is geen fisiese simptome nie – totdat die hartaanval of beroerte jou tref soos ‘n koeël. Net so hoogmoed. Want hoogmoed is een van daardie sondes wat ons selde in onsself raaksien; wat ons nog minder vir mekaar uitwys; en wat op die oog af geen sondedaad tentoonstel waarna jy kan wys nie. Maar as jy mooi kyk, sing hoogmoed saam met elke ander sonde; en dis vernietigend.
Nou moet mens met die lees van hierdie gelykenis die Fariseër in jou gedagtes nie te ver van jou lyf af hou nie. Want die Fariseër woon in elkeen van ons harte. Laat ek verduidelik hoekom.
Wie van ons is daar wat nie al ‘n entjie gevorder het op die pad van askese nie? Wie van ons is nie bly oor ons vordering nie? Wie van ons is daar wie se blydskap nie soms, net soms, in trots verander het nie?
Of wie van ons is daar wat nie met een of ander iets beter is as ander mense nie: ons is mooier, slimmer, fikser, meer gesofistikeerd, beter in ons werk, meer belese en oorwoë in ons politieke of Ortodokse teologiese sienings, meer bewus van sosiale ongeregtigheid, en so aan?
Wie van ons was nie al bly – of, as jy eerlik wil wees, trots – oor hierdie goeie eienskappe nie? En wie van ons het nie al die volgende stappie geneem en neergesien op die mense om ons, op grond van die feit dat ons beter is as hulle nie – of hulle nou die lede van ons gierige, onbeholpe regering is, die tikroker op straat of selfs net die eenvoudige, stiksienige buurman of kollega?
Wat deel die Fariseër en die tollenaar? Hulle gebed. Vir beide van hulle is hulle gebed ‘n offer. Die Fariseër kom offer sy geestelike prestasies – sy vas en die gee van sy tiendes. Maar as ons die toets van Psalm 50 aanlê waarmee ek begin het, dan kom offer hy ‘n brandoffer waarin God geen behae het nie. Hy kom offer op die oog af ‘n dankoffer – want hy begin deur God te dank – maar hy vertel eintlik van die offer waarmee hy reeds God se guns gekoop het. Dis ‘n offer wat redeneer dat as jy ‘n voorgeskrewe aantal dinge gee of doen, dan word jy regverdig; en ander, soos die geestelik smerige tollenaar wat dit nie ge-offer het nie, hulle word nie regverdig nie.
Daarom is sy gebed op die oog af tot God, maar eintlik bid hy tot ‘n god wat ‘n skeidsregter is in die kompetisie vir geestelike punte tussen mense; en sy gebed wys vir dié skeidsregter uit dat hy aan die wen is. Ek het laas week gepraat van die bemiddeling van ons verhouding met God. Hier is ‘n bemiddelde verhouding met God in al die glorie van sy illusies oor Wie God is en hoe hy met mense omgaan.
Kom ons kyk nou na die tollenaar se gebed. Ek wil tersyde opmerk dat daar eggo’s in is van die blinde Bartiméüs se gebed, oor wie ons twee weke terug gepraat het; en die tollenaar se gebed is verder een van die Bybelse bronne vir die Jesusgebed.
Maar die belangrikste van die gebed is dat hy kom offer presies wat Psalm 50 se toets voorskryf: die verbryseling van sy hart wat volg uit die besef van sy geestelike bankrotskap; en die selfvernedering van sy onverbloemde sondaarskap. En dís die offer wat God nie verag nie. Dís die offer wat regverdig, wat God sy genade in oorvloed oor ons laat uitstort.
Toe ons maar vir ‘n kort rukkie Ortodoks was, het ek opgelet dat ons gesin altyd Sondagoggende met mekaar haaks en iesegrimmig met mekaar was. Dit het my ‘n wyle gevat om agter te kom dat die rede hiervoor is dat ons aan die vas is. Wanneer ons vas, word ons swakhede, ons selfbeheptheid en liefdeloosheid duideliker sigbaar. Soos ons die Groot Vastyd ingaan, is die vraag wat ons met hierdie beeld van onsself gaan doen.
Sal ons dit ignoreer, en harder konsentreer op ons sterk punte, dié dinge wat ons kan offer om God se guns te wen en die kompetisie vir regverdigheid met ons naaste te wen; of sal ons soos die tollenaar ons sondigheid in die oë kyk en onsself aan die voete werp van die Een wat ons in ons sondes kom ontmoet?
Die keuse is ons sin, maar laat ons die Vastyd met geen illusie ingaan oor waar God se simpatie lê nie.
Die Heilige Paisios was tydens die Griekse Burgeroorlog in die laaste jare van die 1940’s ‘n radio-operateur. Hy het gesê dat as jy God se stem wil hoor, moet jy die instellingsknoppie versigtig draai tot alle steurnisse weg is en jy die sein duidelik kan hoor. Hoe doen jy dit? Jy draai die knoppie tot by ‘nederigheid’. Dan sal jy God se stem duidelik kan hoor.
En ek weet ek het dit al vantevore gesê, maar laat ek herhaal. As jy, soos ek, besig is met ‘n lewenslange stryd teen hoogmoed en die veroordeling van ander mense, en by voorbaat al wanhopig is dat jy dit sal oorkom: wees dan dankbaar vir jou ander gewoontesondes, die sigbare sondes wat jou telkens oorrompel; en wees dankbaar vir elke versoeking wat oor jou pad kom. Besef dat dit God se manier om die beginsel waarmee ons gelykenis afsluit – dat hy wat homself verhoog, verneder sal word – toe te pas, in ‘n poging om ons onsself te laat verneder, sodat God ons kan verhoog. Ons sondes en versoekinge bewerk daarom ons nederigheid, en daardeur uiteindelik ons verlossing.
Is dit nie wonderlik nie, dat God ons genade kom betoon presies waar ons is, en dat Hy selfs ons innerlike Fariseër wil red, as ons maar bereid is om te sien dat elke besonderheid van ons lewe – elkeen van hulle, ook ons swakhede en sondes – ‘n liefdesbetuiging van God is wat ons Fariseër wil verander in sy tollenaar?
Laat ons daarom ons God vir hierdie wonder eer, nou en altyd en tot in ewigheid. Amen.
Leave a Reply