Die Kapel van die Heilige Thomas en die gemeente in Bloemfontein
Die Kapel van die Heilige Thomas is geleë in Dan Pienaar, ‘n boomryke buurt in die Rosestad. Hier kom die Afrikaanse Ortodokse Sendinggemeenskap van die Heilige Apostel Thomas reeds sedert Mei 2019 bymekaar.
Dis ‘n klein (ongeveer 20 lidmate) maar groeiende gemeenskap wat hoofsaaklik uit jong volwassenes bestaan. Hulle is oorwegend uit ’n gereformeerde of charismatiese geloofsagtergrond, wat aangetrek is na die oorspronklike Christelike Kerk, haar tradisie en sakramente.
Aanvanklik het die gemeente onder die jurisdiksie van die Grieks-Ortodokse Kerk geval, maar Vr. Johann het in Februarie 2023 aansoek gedoen om opgeneem te word in die Afrika-eksargaat van die Russies-Ortodokse Kerk se Moskou-patriargaat, ‘n besluit wat gemotiveer is veral deur die groot ywer vir Ortodokse sending in die plaaslike Afrikatale wat die Moskouse Patriargaat kenmerk.
Wie’s die priester?

Vr. Johann Rossouw het in Verwoerdburg – nou Centurion – in Pretoria grootgeword. Vr. Johann het reeds as klein kind vir sy moeder gesê dat hy eendag predikant wil word. In sy voorlaaste skooljaar het hy tot bekering gekom en ná skool aanvanklik teologie aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer. Maar die NG Kerk se veroordeling van Afrikaanse Voëlvry-beweging teen die destydse politieke onreg in die land en sy besef dat Nietzsche se vernietigende kritiek op die moralisme van die Duitse Protestantisme ook op sy kerklike agtergrond van toepassing is, lei tot die einde van sy teologiese studies.
Ná ’n persoonlike trauma in sy laat twintigs ontdek hy die Zen-Boeddhisme onder leiding van sy leermeester, die skrywer Karel Schoeman. Hy word in Augustus 2003 gewy as Zen-monnik, hoewel hy by sy wyding ook besef dat hy wél in God glo. Twee jaar later het hy Vr. Zacharias by die Kapel van die Heilige Maria van Egipte in Robertson besoek, ‘n eerste kontak met die Ortodoksie wat ‘n diep geestelike indruk op hom gemaak het.
In 2009 is hy vir verdere studie na Melbourne, Australië, waar hy en sy gesin begin het om die Ortodokse Holy Cross Mission in Melbourne by te woon. In 2011 ondergaan Vr. Johann weer ‘n kragtige bekeringservaring, lê die kleed as Zen-monnik neer en verbind hom tot die Ortodoksie. ‘n Jaar later word hy en sy gesin gedoop in dieselfde Kapel waar hy aanvanklik met die Ortodoksie te doen gekry het.
In 2016 loop ‘n afspraak vir ‘n aanvanklike ontmoeting met die nuwe Griekse aartsbiskop in Bloemfonten, Gennadios, uit op ‘n urelange kuier, waartydens besluit word dat Vr. Johann as priester met Afrikaanse Ortodokse sendingopdrag gewy sou word. Ná drie jaar se opleiding onder wyle Vr. George Tsiftsis, word hy in Maart 2019 as priester gewy. Op hierdie manier het sy woorde kleintyd aan sy moeder dat hy eendag predikant sal word, wel op die ou end waar geword, hoewel natuurlik hoegenaamd nie op die manier wat enige van hulle twee kon voorsien nie.
Vr. Johann is ‘n tentmakerpriester. Hy het doktorsgrade in filosofie aan die universiteite van Lyon-3 en Monash in Melbourne behaal en is tans professor in filosofie aan die Universiteit van Bloemfontein. Hy is ook skrywer van verskeie romans en vertalings uit die Frans en openbare intellektueel, wat sedert 1995 gereeld essays en artikels in ‘n wye verskeidenheid publikasies (onder andere Rapport en Litnet) publiseer en gesprekke met openbare figure aanbied.