Die Barmhartige Samaritaan

Deur

Ons staan op die vooraand van die Adventsvas, wat ook bekend staan as die vas van die Heilige Filippus, omdat dit op Woensdag begin, wat die Heilige Filippus feesdag is. Dit duur dus van 27 November tot 7 Januarie, wanneer ons Kersfees vier. So dis ‘n lang vas; en dis ‘n streng vas.
Die klem op die “vas” van die Ortodokse vastye is die ding wat gewoonlik die eerste mens se aandag trek. En as jy begin om die Ortodokse lewenswyse te beoefen, is dit inderdaad die moeilike deel. Mens moet leer om anders oor kos te dink. Daar is baie om oor te wonder. Hoe maak jy as mense jou nooi? Hoe maak jy as jy saam met mense by ‘n restaurant eet en jy weet nie presies wat die bestanddele in die kos is nie? Hoeveel eetbare vegan resepte is daar nou eintlik? En so aan.

Maar ek wil vandag oor ‘n ander, minder bekende deel van die vas praat, en iets wat selfs gesoute Ortodokse gelowiges dikwels mee sukkel. En dis die deel van die vas wat met vandag se Evangelielesing te make het: die liefdadigheidsdeel van die vas. Want die Kerk het nog altyd geleer dat ons askese saam met barmhartigheidswerk loop.
Hoekom is dit so? Dit is omdat die grootste gebod van die liefde vir God bo alles, onlosmaaklik is van ons liefde vir ons naaste. Ons kan nie vergoddeliking bereik en ons siel red as ons nie ook ons naaste help red nie. Laat ek verduidelik.

Wie is die Samaritaan en die gewonde man in vandag se Evangelielesing? Mens kan dit, soos al Christus se gelykenisse, op vele maniere verstaan.
Ons moet onthou dat dié gelykenis vertel word in konteks van die wetsgeleerde se vraag van wat hy moet doen om die ewige lewe te bereik.
Eers laat Christus hom sy eie vraag antwoord, deur hom te vra wat hy in die wet lees. Die wetsgeleerde antwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself.”
Die wetsgeleerde het reg geantwoord, sê Christus, en as hy dit doen, sal hy lewe.

Maar die antwoord is so wyd en so groot dat dit moeilik is om vatplek te kry daaraan. Buitendien het Christus die wetsgeleerde op sy neus laat kyk; en dit kon hy nie toelaat nie. Daarom sy opvolgvraag: Wie is my naaste?
Met dit vertel van die gelykenis lyk dit op die oog af of Christus se antwoord op die wetsgeleerde se vraag is dat “my naaste” die gewonde man is. Hy is immers die een wat die hulp nodig het. En op een vlak bedoel Christus dit natuurlik so. Ons moet nooit toelaat dat ons geleerdheid of ons sosiale posisie, of ons selftrots, ons verhoed om ander se behoeftigheid raak te sien en liefdadigheidswerk te doen nie.

Maar op ‘n ander vlak kan die rolle in die verhaal heeltemal omgekeer word, Christus wys op hierdie interpretasie deur die wetsgeleerde se vraag op sy kop te keer en te vra: “Wie dan van hierdie drie – dis nou die priester, die Leviet of die Samaritaan – dink jy, was die naaste van hom wat onder die rowers verval het?”
As die wetsgeleerde se aanvanklike vraag dan was, “Wie is my naaste?” – die een wat ek moet liefhê soos myself – sou mens verwag dat die antwoord op Christus se uiteindelike vraag, “die verwonde man” moet wees. Maar die antwoord – wat die wetsgeleerde ook reg kry – is dat die naaste die een is wat die barmhartigheid aan die gewonde man bewys het: die Samaritaan.
En dit beteken noodwendig dat die vraag op die wetgeleerde se aanvanklike vraag, “wie is my naaste”, se antwoord ook is dat die Samaritaan wat die verwonde man versorg het, die een is wat sorg nodig het; en natuurlik ook die wetsgeleerde, wat Christus aansê om net soos die Samaritaan te gaan optree.

Hierdie is nie net slim taaltruuks nie. Hierdie paradoks wys op ‘n waarheid waarop die Ortodokse Kerk deur die eeue gewys het, naamlik dat die afstootlike een wat voor ons staan met sy dwelmprobleem, sy wonde, sy stink lyf en sy armoede, dit is ek. En die naaste van hierdie armoedige ek, is ook ek. Wanneer ek barmhartigheid aan andere bewys, bewys ek ook barmhartigheid aan myself. En leef ek die waarheid uit dat ek my naaste moet liefhê soos myself.
Dit is hoekom die askese van die vas, waardeur ons algaande meer bewus word van ons sondigheid en behoeftigheid, onlosmaaklik gepaard gaan met die askese van barmhartigheid.

Dit is ook een van die redes hoekom heiliges deur die eeue, beginnende by die Apostel Paulus, maar ook die Heilige Paisios en die Heilige Silouan van Athos, aangevoer het dat hulle die vernaamste van sondaars is. Dis eers wanneer ons besef dat ons die vernaamste van sondaars is, wanneer ons besef dat óns verwond en armlastig langs die pad lê, dat ons Christus se barmhartigheid en sorg kan aanvaar.
Dan word Christus die Goeie Samaritaan wat my kom red, wat my kom salf met die olie van die genade van die Doop en Salwing met die Heilige Gees; en bedien met die wyn van Kommunie; en my bring na die Herberg van die Kerk, waar die wonde aan my siele en liggame genees kan word.
Mag ons Hom liefhê uit ons hele hart en uit ons hele siel en uit ons hele krag en uit ons hele verstand in hierdie Adventstyd, en tot in ewigheid. Amen.

Kommentaar:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *