Christus se geslagsregister: alles behalwe droog.

Deur

Die geslagsregister van Christus is op die oog af ‘n droë affêre, veral vir ons moderne hoorders daarvan.  Mens is geneig om dit tersyde te laat as een van daardie gedeeltes in die Bybel wat seker op een of ander manier nodig is, maar nie deel is van die aksie nie.

Maar dit sal ‘n fout wees om so daarna te kyk.  Want as jy kyk, sien jy dat dit soos ‘n woud is, of die see: op eerste blik eenvormig, van naderby vol merkwaardighede en wonders.

Een voorbeeld is dat die name in die geslagsregister almal iets beteken:  Abraham, “vader van vele”, “hakskeengryper” of “bedrieër”, maar as Israel ook “krygsman van God”, Rut, “metgesel”, Maria , wat in die Hebreeus Miriam is, wat iets soos “bitter see” kan beteken; en dié betekenisse is op sigself ‘n les. 

Nog ‘n voorbeeld is dat al vyf die vroue waarna verwys word – Tamar, Ragab, Rut, Batseba (wat natuurlik nie op haar naam genoem word nie), op een of ander manier skandelik opgetree het – behalwe Maria, die bitter see, die Alreine. 

En nog ‘n voorbeeld is dat vers 17 sê dat die geslagsregister bestaan uit drie dele van 14 geslagte elk maar dat die derde deel, die deel ná die ballingskap, bestaan uit net 13 geslagte.  Wat beteken dat Christus die 14de geslag is.

Dis oor dié laaste punt wat ek wil praat.  Hierdie geslagsregister begin nie soos Lukas sin, by Adam nie, maar by Abraham, die vader van die geloof, en van die Joodse nasie.  Dit wys dat Christus se lewe ingebed is in die lewe van God se uitverkore, afvallige, sondige, verguisde volk.  God het nie uit die lug gekom en sy mense kom besoek, soos in die verlede nie.  Nee, Hy het vlees aangeneem uit die bloed van sy mense en hulle lot en geskiedenis kom deel.

Die geslagsregister wys ook dat Christus se voorsate die koninklike lyn van die Israeliete was, die geslag van Dawid.  Wat vir die Jode vir wie Mattheüs sy Evangelie geskryf het, gewys het dat Christus die Koning was waaroor die profete voorspel het dat Hy sou kom.

Maar hier hou die wonderlikheid van Christus se geslagsregister nie op nie.  Hoor wat sê Joh 1: 12 Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;

13 wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is. 

Wanneer ons daarom Christus aanneem en in sy Naam glo, word ons uit God gebore tot kinders van God; en word ons deel van sy geslagsregister en sy bloedlyn.

Hoor wat sê Gal 3: 26:

Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus;

27 want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.

28 Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus.

29 En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.

Dit beteken dat ek en jy, wat deel van God se kinders word deur geloof, deel word van die voortgaande geslagsregister, die bloedlyn, van Christus.

En natuurlik is daar die belofte wat met elke Liturgie, en ook vanoggend, gegee en vervul word:  “Drink almal daaruit: Dit is My bloed . . .”  Ons drink Christus se bloed en eet sy liggaam, en word so deel van sy vlees en bloed, van sy familie, en van sy geslagsregister.

Daar was ‘n tyd toe mense geweet het waar hulle vandaan kom.  My skoonpa vra steeds vir jou wat jou van is, waar jou mense vandaan kom en wat jou ma se nooiensvan was – en is elke keer opreg verstom as jy so ‘n stommerik is dat jy dit nie weet nie.  Maar ons stel onsself deesdae selde voor met ons van.  Ons het hiperindividualistiese enkelinge geword, vryswewende keusemakers, sonder oorsprong of toekoms.  Dis nie net geweldig vereensamend op die lang duur nie; dit lei ook tot klein, benouende lewens sonder verbindtenis en daarom sonder betekenis.

Hierdie idee het onlangs vir my waar geword toe ek by die Hugenotemuseum in Franschhoek besoek afgelê het, en foto’s en skilderye van my voorsate gesien het.  ‘n Skildery van die oorspronklike Kriel-egpaar, voorsate van my ma, wat Keerwederplaas op Franschhoek besit het.  ‘n Ou foto van my ouma as ‘n klein kind, ‘n ewebeeld van my pa en nou van my oudste kind.  Dit het my ‘n grondige bewustheid gegee daarvan dat ek deel is van ‘n groter storie, ‘n langer geskiedenis as net die vervlietende skadu van my paar dekades op aarde.

En mens sien die sterkste vervulling hiervan in die lewe van koninklikes.  Miskien was die mees sigbare en dramatiese onlangse voorbeeld hiervan Elizabeth II van Engeland.  Dit was uit haar ganse lewe duidelik dat sy ‘n bewustheid daarvan gehad het dat sy deel is van die groter geskiedenis van die wêreld.  Dat sy ‘n sinvolle bydrae te maak het.  Ek dink dis hoekom sy haar ganse lewe aan diens kon wy.

En dit is wat ek vanoggend vir julle wil sê:  Ons is koninklikes, met ‘n geslagsregister soos geen ander nie.  Ons is deel van ‘n groter verhaal, van die drama van die mensdom se geskiedenis, en my en jou lewe maak ‘n bydrae daartoe.  Wanneer ons Dinsdag die geboorte van die Koning van die wêreld vier, onthou daarom dat dit ons Broer en Voorsaat is wie se geboorte ons vier.

Christus het gebore geword om te sterf, sodat die wêreld gered kan word.  Hy kon doen wat Hy gedoen het en die vernedering en die kruis verduur, omdat Hy geweet het Wie Hy is en waar Hy vandaan kom; en omdat Hy geweet dat wat Hy doen, die sentrale gebeurtenis in die menslike geskiedenis is.  En ons, omdat ons sy bloedfamilie is en weet waar ons vandaan kom, kan ook die klein bestek van ons lewens so leef; ons kan dien en sterf in Christus sodat die wêreld gered kan word, omdat ons weet wie ons is, en waar ons vandaan kom.  Dat ons niks minder is nie as koninklikes.

Mag ons begin leef met dié perspektief, tot die ewige eer van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, nou en altyd en tot in ewigheid.

Kommentaar:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *