Die Bedehuis Betanië en die gemeente in Robertson

Die Bedehuis Betanië is geleë in die skilderagtige Keurkloof, in die voue van die voetheuwels van die Langeberge buite Robertson. Dit is die tuiste van die plaaslike gemeente van die Afrika-Eksargaat van die Russies-Ortodokse Kerk. Hoewel die Afrika-Eksargaat eers in Januarie 2022 tot stand gekom het, bestaan die gemeente en die Bedehuis al meer as 20 jaar.
Hier word elke Saterdagmiddag ‘n Vesperdiens (die Aandgebed van die Kerk) en elke Sondagoggend die Liturgie (die Nagmaaldiens) gevier, in ‘n kapel wat vernoem is na die Heilige Maria die Egiptenaar, een van die merkwaardigste vroue van die vroeë Kerk.
Die gemeente is nie groot nie, maar kom uit ‘n geweldige wye area, met mense wat van so ver soos Swellendam, Napier en Stanford kom om dienste by te woon.
Wie’s die priester?
Vr. Zacharias van Wyk is in 1946 in Beaufort-Wes gebore, en het die grootste gedeelte van sy skoolopleiding by die Hoër Seunskool Cradock ondergaan. Hy het al as staatsamptenaar, vertaler by die Parlement en onderwyser gewerk, laasgenoemde ná BA-graad by Tuks. In die laat Sewentigerjare het hy ‘n Meestersgraad in Kliniese Sielkunde by Rhodes Universiteit voltooi en toe 20 jaar lank in Kaapstad as terapeut gewerk, voordat hy na Robertson verhuis het.
Sy geestelike pad het ewe interessant verloop. Hy is gebore in ‘n NG-familie en het altyd ‘n intense belangstelling in die godsdiens gehad. Hy het net na matriek Rooms-Katoliek geword, maar die Kerk het ná die Tweede Vatikaanse Konsilie deur ‘n hewige omwenteling gegaan, iets wat hy as baie traumaties ervaar het. Later was hy meer as 20 jaar kerkloos, ‘n periode waarin hy groot belangstelling in die Boeddhisme gehad het en Boedhistiese praktyke soos meditasie beoefen het – maar nooit sonder om homself eers te kruis nie! Nog later het hy die Christendom herontdek en kort daarna die Ortodokse Kerk, wat hy beskou as die ontdekking van sy lewe.
Hy het in 1996 Ortodoks geword en wou reeds van vroeg af hierdie geestelike skat met sy mede-Afrikaansprekendes deel. Daarom het hy met vertalings en toonsettings van liturgiese tekste begin, ‘n liefdeswerk van reusagtige omvang wat daarop uitgeloop het dat die dienste van die groot feeste in die Kerkjaar, Vesperdienste en Liturgieë op Sondae, vandag volledig in Afrikaans gevier word. En wat ‘n pragtige liturgiese taal het Afrikaans nie geblyk te wees nie!
Hy is in [datum] as priester gewy, en in 2022 in die Russies-Ortodokse Kerk as priester opgeneem.
Die Bedehuis

Die eiendom waarop ons retrêthuis geleë is, is ‘n kleinhoewe ongeveer drie kilometer buite die dorp Robertson en het ‘n asemrowende uitsig op die Langeberge. Dit is die ideale uitspanplek vir siele wat smag na stilte en is tot die beskikking van enigiemand wat eerlik en opreg soek na God. In die kapel, gewy aan die Heilige Maria, die Egiptenaar, kan mense in ‘n Ortodokse atmosfeer mediteer en bid.
Die retrêthuis is ook die basis vir ‘n Ortodokse uitreiking na die gemeenskap van Robertson en omgewing.