Die Kapel van die Aankondiging en die gemeente in Kaapstad

Die Kapel van die Aankondiging is ‘n aanbiddingsruimte wat geskep is op ‘n koorgalery in die NG Kerk in Rondebosch, Kaapstad. Onder ‘n plafon wat herinner aan ‘n omgekeerde skip, kom ‘n klein groepie mense – iewers tussen 8 en 12 – Sondae bymekaar vir die viering van die Liturgie, al vir net bietjie meer as ‘n jaar.

Die bestaan van die gemeente is te danke aan die jarelange werk wat Vr. Zacharias van Wyk in Kaapstad onder Afrikaanse mense gedoen het; en aan die bereidwilligheid van die Russies-Ortodokse Kerk om ‘n Afrikaanse sending in Kaapstad tot stand te bring en te ondersteun. Die gemeente is ook groot dank verskuldig aan die entoesiastiese en gasvrye ondersteuning van die NG Kerk in Rondebosch, wat nie alleen die Kapel kosteloos aan hulle beskikbaar stel nie, maar hulle ook op verskeie ander maniere bly ondersteun.


Wie’s die priester?

Vr. Jacques Smuts is ‘n Kapenaar. Hy is die seun van diep gelowige ouers, lidmate van die Groote Kerk in Kaapstad, wat vir hom en vir talle ander ‘n voorbeeld van selflose liefde en diens was. Hy was van vroeg af baie ernstig oor sy geloof in Christus, maar het in sy middel twintigs ‘n aanvoeling ontwikkel dat daar iets meer aan aanbidding moet wees as die baie rasionele manier van kerk hou waarmee hy grootgeword het.

Hy het kerkloos geword vir ‘n goeie 20 jaar en wye geestelike paaie geloop, maar dikwels gebid dat hy ‘n geestelike tuiste sal vind, omdat hy deurgaans bewus was dat ‘n Christen op sy eie uiters kwesbaar is. Sy gebede is beantwoord toe hy Vr. Zacharias in 2008 ontmoet het. Hy het kort ná hierdie ontmoeting die dienste van die Heilige Week in Robertson bygewoon en besef dat hy sy geestelike tuiste gevind het. Maar dit sou ‘n jaar of drie neem voor sy vrou oortuig sou word dat haar man nie homself aan ‘n volksvreemde sekte verbind het nie. Hy is saam met sy gesin in 2013 gedoop.

Hy was nie lank Ortodoks nie toe hy ‘n roeping begin ervaar het om die skoonheid van die Ortodoksie aan Afrikaanse mense in Kaapstad bekend te stel. Maar dit sou ‘n jare duur voordat hy uiteindelik in 2023 in Moskou as ‘n priester gewy is.

Hy praktiseer ook sedert 1998 as advokaat en regsadviseur in Kaapstad en het saam met sy vrou al ‘n aantal boeke die lig laat sien. Sy plaasvrou Emilia boer op hulle werf aan die voet van Tafelberg, het ‘n uitgebreide gasvryheids- en barmhartigheidsbediening en is ‘n uitstaande kok. Sy oudste seun Gerrit is besig met studies in kubersekuriteit en sy jongste seun Gabriël het so pas die avontuur van student wees aangepak.