Johannesburg

Die enigste Afrikaanse gemeente in Johannesburg – en in die geheel van Gauteng – is geleë by die Kapel van die Heilige Konstantyn en Helena, by ‘n huis by 13 Waterpansingel in Eldoradopark. Hierdie gemeente, wat onder die Grieks-Ortodokse Patriargaat van Alexandrië val, is ongeveer 40 mense sterk en al ruim 21 jaar aan die gang.

Vader Jacobus van der Riet, wat hierdie gemeente bedien, dien ook by die Kerk van die Ontslaping van die Theotokos in Redruth, Alberton. Die dienste by hierdie gemeente, wat in 1970 gestig is en ‘n paar honderd mense sterk is, word oorwegend in Engels en Grieks gehou, maar ook per geleentheid in Afrikaans.


Wie’s die priester?

Daar word van Vader Jacobus van der Riet vertel dat hy in 1959 op Stellenbosch gebore is, maar hy het geen onafhanklike herinnering aan dié gebeurtenis nie en kan dit daarom nie bevestig nie.

In die 1980’s het hy grade in Klassieke Tale en Teologie verwerf en in 1999 beide ‘n Ph.D. in Klassieke Tale van Wits (oor Romeinse en Griekse poësie) en ‘n Meestersgraad in Teologie van St Tikhon’s Orthodox Seminary in Pennsilvanië in die VSA behaal. Hierná volg ‘n nagraadse diploma in Biblioteekkunde aan die Universiteit van Kaapstad, waarmee hy vir 20 jaar sy brood as bibliotekaris verdien het.

Marica Frank, sy destydse kollega in die Klassieke Departement by Wits, het hom genooi om dienste by die Heilige Nikolaas van Japan-gemeente in Brixton, Johannesburg by te woon en hy het geleidelik die Ortodokse geloof, aanbidding en lewenswyse begin waardeer. Hy het in 1993 ‘n katageet gewoord en is in 1994 in die Ortodokse Kerk ontvang.

In 2001 het hy as gas in ‘n klooster in die Peloponnesos in Griekeland gewoon om moderne Grieks, Bisantynse sang en ikonografie te leer. Hy is in 2002 as diaken georden en kort daarna deur aartsbiskop Serafim tot priester gewy; en ‘n paar jaar later die rang van Archimandriet ontvang.

Hy het eers agtien maande lank in die Heilige Joris Kerk in Brakpan diens gedoen. Daarná, vanaf 2004 tot nou, dien hy in die Kapel van die Heilige Konstantyn en Helena in Eldorado Park. Hy het later ook in die Heilige Basilios Kerk in Springs, vir twintig maande gedien. Nog later het hy gedien in die Kerk van die Ontslaping van die Hoogheilige Theotokos te Rustenburg, en sedert 2022 word dit gekombineer met sy diens in Alberton.

Hy wy sy vrye tyd aan die vertaling van liturgiese en ander Ortodokse tekste in Afrikaans gewy en ook aan die tekenkuns, spesifiek karikature. Hy het ook reeds twee digbundels gepubliseer: In 2012 het Die Onsienlike Son, wat 66 sonnette oor Christus en die Heiliges, vanaf Ou-Testamentiese tye tot op hede, bevat, die lig gesien; en in 2019 ‘n soortgelyke bundel genaamd Die Heimlike Heiligdom.