Ignatius die God-draer

Gedenk op 20 Desember / 2 Januarie

In Mattheus 18 word vertel dat Christus sy dissipels oor nederigheid geleer het deur ‘n kindjie te roep en hom in hulle midde te laat staan en te sê, “Elkeen dan wat homself verneder soos hierdie kindjie, hy is die grootste in die koninkryk van die hemele.”

Daardie kindjie, Ignatius, is later Theophorus – God-draer – genoem, omdat hy voortdurend die Naam van die lewende God in sy hart en op sy lippe gedra het.   Die Heilige Ignatius is een van die sogenaamde Apostoliese Vaders, wat die Apostels nog geken het.  Hy word so genoem omdat hy ‘n dissipel was van die Heilige Johannes die Teoloog (skrywer van die Johannes-evangelie en Openbaring), en ‘n opvolger van die Heilige Petrus as biskop van Antiochië (in hedendaagse Sirië).

As biskop van Antiochië het Ignatius die Kerk van God soos ’n goeie herder gelei.  Nadat hy ‘n visioen gesien het van die engelekore in die hemel wat mekaar se lofsange aan God afwissel, het hy sy kerkkoor ook so verdeel, en so antifonale sang in die Kerk ingevoer. 

In ongeveer 106 of 107 het die keiser Trajanus ná sy oorwinning oor Skitië en Dasië, deur Antiochië gereis en Ignatius laat ontbied, hom beveel om aan die afgode te offer en hom ‘n senatorspos beloof as hy dit sou doen.  Toe Ignatius weier, is hy in boeie saam met tien wrede soldate na Rome gestuur om aan die wilde diere in die Colosseum gevoer te word.  Ignatius het hom hieroor verheug. 

Op pad het hy sewe briewe aan ses gemeentes en Polikarpus, sy mededissipel van die Heilige Johannes die Evangelis en biskop van Smirna, geskryf.  Hierdie briewe het beroemd geword as skatte van inligting oor die vroeë Kerk.  Dit het die hiërargiese aard van die Kerk (biskoppe, priesters en diakens) bevestig; is die vroegste gebruik van die woord “katoliek” (of gehele, volledige en universele) om die Kerk te beskryf.  Dit dien ook as getuienis dat die Kerk van die vroegste tye af geleer het dat die Eucharistie (of Kommunie) die ware Liggaam van Christus is, en die Kerk in sy wese Eucharisties.  Ignatius se briewe is ook die bron vir die siening van martelaarskap as vereniging met Christus in sy Passie, as voorspel vir deelname in die heerlikheid van Christus, wat gelei het tot die vroeë Kerk se verering van martelare as heiliges.  Die gesaghebbendheid van hierdie briewe word bevestig deur die feit dat die Heilige Irenaeus, biskop van Lyon, later in die tweede eeu aangehaal is, en ná hom deur talle teoloë deur die eeue.

Ná ’n lang en moeilike reis deur Klein-Asië het Ignatius in Rome aangekom, waar hy in die sirkus deur leeus verskeur en verslind is, sodat net ’n paar van die groter bene en sy hart oorgebly het.  Sy relieke rus vandag in die Basilika van San Clemente in Rome, waarvan die beskermheilige nog ‘n apostoliese vader, Clement I van Rome, is.

Ná sy marteldood het Ignatius aan baie gelowiges in hulle slaap verskyn en sommiges het hom sien bid vir Rome.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *