Gedenk op 22 Desember / 4 Januarie
Hierdie glorieryke heldin van die Christelike geloof is in Rome gebore in ‘n welgestelde senatoriale familie, van ‘n heidense vader en ‘n Christelike moeder. Van haar vroeë jeug af het sy in liefde aan die Here Jesus vasgeklou en sy is in die leer van Christus onderrig deur ‘n toewyde onderwyser, Chrysogonus.
Ná haar moeder se oorlye is Anastasia ideur haar vader gedwing om met ‘n heidense grondeienaar, Publius, te trou. Sy het met die verskoning van ‘n vroulike siekte geweier om enigsins ‘n fisiese verhouding met hom te hê. Hiervoor het haar man haar wreed gemartel deur haar op te sluit en te verhonger. En toe hy van haar geheime besoeke aan die gevangenisse van die Christelike martelare te hore gekom het, het hy haar nog erger gemartel. Anastasia het naamlik het vir hulle kos gebring, hulle bedien, hulle wonde gewas en hulle bindtoue losgemaak. Deur God se voorsienigheid is sy van haar bose man bevry. Publius is deur die keiser na Persië gestuur, en tydens die seereis het hy verdrink.
Heilige Anastasia het hierna begin om die gemartelde Christen-martelare vryelik te bedien en die armes te vertroos deur hulle aalmoese uit haar groot erfenis te gee.
Op ‘n stadium was Keiser Diocletianus in die stad Aquileia en het hy beveel dat Chrysogonus, Anastasia se leermeester, na hom gebring word. Anastasia het hom op pad vergesel. Heilige Chrysogonus is op bevel van die keiser onthoof, en daarna het drie susters – Agape, Chionia en Irene – ook gely: die eerste twee is in die vuur gegooi en die derde is met pyle doodgeskiet. Anastasia het hul liggame geneem, hulle in wit linne toegedraai, hulle met baie aromatiese speserye gesalf en hulle eervol begrawe.
Hierna het Anastasia na Masedonië gegaan, waar sy mense gehelp het wat vir Christus gely het. Dis hier wat sy bekend geword het as Bevryder van Towerdranke (“Pharmakolitra”), omdat sy deur haar voorbidding baie mense bevry het van die gevolge van towerdranke, gif en ander skadelike stowwe. Maar dit het ook in Illyricum bekend geword dat sy ‘n Christin is, waarvoor sy gearresteer is en voor verskeie regters gebring is vir ondervraging en marteling. Maar Anastasia het voortdurend na haar geliefde Christus verlang en wou vir Hom sterf. Tydens haar marteling is sy oorgegee aan die hoof van die heidense priesters, Ulpianus, wat probeer het om haar te onteer. Maar hy is skielik verblind en het op pad na die heidense tempel, waar hy geglo het hy sou genees word, gesterf.
Anastasia is uiteindelik veroordeel om uitgehonger te word en het sestig dae lank in die tronk deurgebring sonder kos, met net haar trane en gebed as voedsel. Toe is sy in ‘n boot geplaas saam met verskeie ander Christene om te verdrink, maar God het haar selfs van hierdie gevaar verlos. Sy is uiteindelik aan die voete en hande aan vier wiele oor ‘n vuur vasgemaak en het op hierdie manier haar heilige siel aan God oorgegee. Sy het gely en is in die Koninkryk van Christus opgeneem in die jaar 304.


