Feesdag: 29 (16) Mei
Sterfdatum: Januarie 1943
Daar is min bekend oor die lewe van die Heilige Vukašin, ‘n Serwies-Ortodokse Christen van Herzegovina wat tydens die Tweede Wêreldoorlog ‘n marteldood gesterf het onder die Ustaša, ‘n fascistiese organisasie wat regeer het in ‘n staat wat die Onafhanklike Staat van Kroasië – ‘n Nazi marionetstaat – genoem is. In hierdie staat het dieselfde vervolging van Jode, sigeuners en Serwiërs plaasgevind as in Nazi Duitsland. Een van die grootste konsentrasiekampe in die land was die berugte Jasenovac, waar honderde duisende mense in die verskriklikste omstandighede gesterf het.
Sint Vukašin is gebore in die dorpie Klepci in Herzegovina (in die hedendaagse Serwië), omstreeks die draai van die negentiende na die twintigste eeu. Hy was van die bekende Mandrapa-familie. Op een stadium het die familie van Klepci na Sarajevo verhuis en was bekende weldoeners van die kerk van die aartsengele Migael en Gabriël in Sarajevo. Hy en sy nefies Chedo en Dobro het as lesers by hierdie kerk gedien. Aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog het hy uit Sarajevo terug gevlug na Klepci, waar hy vir ’n tyd lank vir die fasciste geskuil het, totdat hy saam met ander Serwiërs van daardie streek deur lede Ustaša-beweging gearresteer is en na die berugte konsentrasiekamp Jasenovac gestuur is.
Een nag in Januarie 1943 is besluit om 3,000 mense dood te maak. Vier Ustaša-soldate het ‘n weddenskap aangegaan oor wie die meeste mense kon doodmaak. Deur die loop van die nag het een van die moordenaars, luitenant Josep Friganovich, (hy het die bynaam Zhila gehad, wat “sterke” of “tawwe een” beteken), die ander ver oortref deur 1,100 mense binne ’n paar uur dood te maak, terwyl die ander elk 300–400 op daardie stadium vermoor het. Al die bloedvergieting het hom met ’n soort ekstase vervul.
Toe Zhila die ou man Vukašin sien, is hy geskok deur sy kalmte. Sy ekstase het verdwyn, en vir ’n paar sekondes het hy gevries en kon nie beweeg nie. Zhila het nader gestap en Vukašin oor sy lewe en familie uitgevra. Hy het ’n onweerstaanbare drang gevoel om Vukašin se kalmte te verbrysel. Hy het gesê hy sou Vukašin se lewe spaar as hy “Lank lewe Pavelić!” sou uitroep. Ante Pavelić was die leier van die Ustaša-beweging en die Onafhanklike Staat van Kroasië.
Vukašin, wat die mes in die soldaat se hand gesien het, het kalm geantwoord: “Radi ti, dijete, svoj posao” – “Doen jou werk, my kind,” en het geweier om die versoek te gehoorsaam. Die Ustaša-soldaat het Vukašin se oor met sy mes afgesny. Hy het sy opdrag herhaal en Vukašin het weer dieselfde geantwoord. Die soldaat het toe die ander oor afgesny, toe sy neus, en toe sy gesig vermink. Daarna is sy tong afgesny.
Nadat die versoek weer herhaal is dat hy die bose woorde moet uitspreek, het Vukašin weer kalm geantwoord: “Doen jou werk, my kind.” Uiteindelik het Vukašin die teken van die Kruis gemaak met sy hand. Verward het die soldaat sy hand afgesny – volgens sekere weergawes het hy daarna sy arms en bene afgesny, sy oë uitgesny, en toe sy hart uitgesny – en hom uiteindelik vermoor deur sy kop af te sny.
Direk ná Vukašin se dood kon Zhila nie meer doodmaak nie en het die weddenskap verloor teen Petro Brzitza, wat 1,350 mense vermoor het. Zhila het dikwels ’n visioen van Vukašin begin sien wat sê: “Doen jou werk, my kind.” Hierdie woorde in sy kop het só ondraaglik geword dat hy begin het om swaar te drink, maar die stem het nie verdwyn nie. Toe het hy begin om lukraak mense aan te val in ’n poging om die nagmerrie te beëindig en die herinnering te onderdruk. Maar ook dit het nie gewerk nie – hy het uiteindelik kranksinnig geword.
Hy is behandel deur Nedo Zets, ‘n psigiater of neuroloog wat as “vry prisonier” in die Jasenovac-kamp gewerk het. Zhila het vir hom die verhaal van Vukašin se martelaarskap vertel, wat dit in 1946 opgeteken het. Baie van Vukašin se familielede is ook vermoor, insluitend sy nefies wat in Jasenovac gesterf het. Vukašin Klepci van Jasenovac is in 1998 deur die Heilige Sinode van die Biskoppe van die Serwies-Ortodokse Kerk as martelaar tot heilige verklaar.

Lt Zhila Friganovich met een van sy slagoffers. Bid tog vir sy siel, en ook vir die siele van sy slagoffers.