Feesdag: 26 (13) Oktober
Sterfdatum: 1795
Die Heilige Maagd-Martelares Zlata is gebore in die dorpie Slatina in die Meglen-bisdom, op die grens tussen Bulgarye en Serbië. Haar ouers was arm boeremense en sy het drie susters gehad. Heilige Zlata, wie se naam “goud” beteken, was ’n nederige, sagmoedige en vroom meisie, wys met die wysheid van Christus. Sy was ook buitengewoon mooi, en dit was juis hierdie skoonheid wat daartoe gelei het dat haar lewe bekroon is met die lyding van ‘n groot martelares.
Sy het geleef in die tyd van die Ottomaanse oorheersing en ’n plaaslike Turk, wat betower is deur Zlata se seldsame skoonheid, het ‘n bose wellus vir haar ontwikkel en gesoek na ’n geleentheid om sy afstootlike begeerte te bevredig. Een dag is Zlata saam met ander vroue na die bos buite die dorpie om hout te gaan soek. Die wellustige Turk het daarvan te hore gekom, ’n paar ewe skaamteloses opgestook, en saam het hulle Zlata gevang en haar met geweld na sy huis geneem. Hy het haar toe probeer oorreed met groot beloftes om tot Islam te bekeer, en beloof dat hy dan met haar sou trou; andersins sou hy haar aan verskriklike marteling onderwerp. Zlata het die Naam van die Here Jesus aangeroep en onverskrokke gesê:
“Ek glo in Christus, ek aanbid Hom, en Ek ken Hom alleen as my Bruidegom; Ek sal Hom nooit verloën nie, al sit julle my deur ’n duisend martelinge of sny my in stukkies.”
Toe die Turke hierdie vasbeslote woorde hoor, het hulle besef dat hierdie meisie nie met gewone middele oorreed sou word nie, en hulle het iets meer listigs probeer. Hulle het Zlata aan hul vrouens toevertrou om haar op alle moontlike maniere te oorreed. Hierdie vroue het alles probeer, allerhande listighede gebruik, en haar elke moontlike plesier belowe. Vir ses volle maande het hulle probeer om Zlata te oorreed om die Moslemgeloof aan te neem. Maar alles was tevergeefs, want die salige Zlata was standvastig en onwankelbaar in haar geloof in Christus.
Daarna het die Turke Zlata se ouers en susters laat kom en hulle met vreeslike dreigemente aangesê om Zlata te oorreed om Moslem te word, anders sou sy doodgemaak word, en hulle sou gemartel word en hul eiendom verloor. Verskrik het haar ouers en susters haar begin smeek om haar geloof te verloën; en huilend het hulle haar toegespreek:
“Dogter, liewe dogter, ontferm jou oor jouself, oor ons, jou ouers, en oor jou susters, want ons sal almal om jou ontwil vernietig word. Verloën Christus net uiterlik, dan sal jy en ons gespaar bly. Christus is barmhartig; Hy sal die sonde vergewe wat in ’n noodsituasie gepleeg is.”
Verstom en bedroef, maar brandend van liefde vir Christus, het die dapper siel van Heilige Zlata haar nie deur hierdie duiwelse strikke laat oorwin nie. Sy het bo haar ouers en susters se trane uitgestyg, bo vlees en bloed en die natuurlike orde. Sy het hulle geantwoord:
“As julle my aanraai om Christus, die ware God, te verloën, dan is julle nie meer my ouers of my susters nie. Ek het ‘n Vader — die Here Jesus Christus, ‘n Moeder — die Allerheiligste Moeder van God, en broers en susters — die heiliges.”
Toe die Turke — veral Zlata se ontvoerder — sien dat geen listigheid of pogings werk nie, het hulle tot marteling oorgegaan. Eerstens het hulle Heilige Zlata in ’n tronk gegooi waar sy drie maande lank gelê het; elke dag het hulle haar uitgehaal en geslaan totdat haar bloed die grond deurweek het. Daarna het hulle die vel van haar rug afgestroop en die stukke vel voor haar oë opgehang om haar te probeer bang maak, terwyl haar bloed uit haar liggaam gestroom het.
Maar selfs dit was nie genoeg vir die folteraars nie. Hulle het toe ’n ysterstaaf gloeiend warm gemaak en dit van oor tot oor haar kop gesteek, sodat rook by haar neus en mond uitgekom het.
Hierdie afgryslike martelinge — wat selfs die dapperste mense sou laat wankel — het die heilige martelares dapper verduur, versterk deur die krag van die kruis en haar vurige liefde vir Christus. Want soos die heilige Simeon Metaphrastes sê:
“’n Siel wat met die bande van liefde aan God verbind is, ag lyding as niks, verheug haar in pyn, en floreer deur marteling.”
Terwyl sy hierdie vreeslike lyding verduur het, het sy gehoor dat vader Timotheos, die voormalige ab van die Athos-klooster van St. Niketas, in die dorpie was. Hy was haar vader se geestelike vader. Sy het ’n Christen gestuur om hom te vra om tot God vir haar te bid, dat die Here haar waardig sou ag om haar martelaarskap op ’n aan God welbehaaglike wyse te voltooi.
Haar nederige gebed is verhoor: die Here het haar krag gegee, en sy het inderdaad haar stryd as grootmartelares voltooi.
Uiteindelik het die genadelose Turke die martelares aan ’n boom opgehang en haar in stukkies opgesny. En so het Heilige Zlata, beproef en gesuiwer soos goud in die smeltkroes van lyding, haar heilige siel oorgegee in die hande van haar Onsterflike Bruidegom, en van Hom ’n dubbele kroon ontvang: die kroon van maagdelikheid en die kroon van martelaarskap. Nou verheug sy haar in die hemelse wonings saam met die wyse en oorwinnende maagde, en geniet saligheid in die wonderlike Koninkryk van die Here Christus, en verheerlik Hom tot in alle eeue.
Mag ons deur haar gebede ook waardig geag word van die Hemelse Koninkryk.
Gelowige Christene het in die geheim die stukke van haar heilige relieke versamel en dit met eerbied en vroomheid begrawe.
Heilige Zlata het gely in Oktober van die jaar 1795.