
Vandag is die feesdag van die Heilige Gregorius Palamas, Aartsbiskop van Thassalonika en een van die groot teoloë van die Kerk.
Hy is gebore in 1296 in Klein-Asië, vandag Turkye. Let op dat sy geboortedatum reeds ná die skeuring tussen die Oosterse en Westerse Kerke van die 11de eeu was. Ten spyte van ‘n uitstekende opvoeding en die belofte van ‘n loopbaan in diens van die destydse Keiser, het op 18 of 20 reeds na die Heilige Berg Athos gegaan en ‘n monnik geword. Hier het hy die dissipline van askese geleer onder verskeie ouderlinge en later ook die dissipline van hesigasme. Die woord hesigasme kom van die Griekse woord wat stilte of kalmte beteken, en mense wat die hesigastiese praktyk beoefen, word hesigaste genoem.
In 1326 het hy, as gevolg van dreigende Turkse aanvalle op Athos, na Thessalonika gegaan waar hy as priester gewy is. Hier het hy sy lewe as priester met dié van ‘n kluisenaar gekombineer. Hy het 5 dae in afsondering en askese geleef en Saterdae en Sondae sy gemeente gedien.
In 1330 het ‘n baie geleerde monnik, Varlaam of Barlaam, van Italië af in Konstantinopel aangekom. Hy was skrywer van traktate oor logika en astronomie, ‘n wiskundige, ‘n humanis, ‘n taalkundige, ‘n teoloog en ‘n vaardige en pittige spreker met ‘n vlymskerp tong. Hy het gou die guns van die keiser gewen en is aangestel in ‘n pos by die universiteit, waar hy lesings begin gee het oor die Heilige Dionysius die Areopagiet, wie se onderskeid tussen appofatiese en katafatiese teologie deur beide die Oosterse en Westerse Kerke aanvaar is.
Maar nie lank daarna nie het hy Athos besoek, waar hy met die hesigiasme te make gekry het. Dit het hy, op die basis van die feit dat ons God se essensie nie kan ken nie (‘n beginsel van die apofatiese teologie van Dionysius), die hesigiasme as ‘n kettery verklaar.
Aanvanklik het Gregorius vir Varlaam mondeling probeer teregwys, maar toe dit nie werk nie, het hy hom tot skrif gewend en die Triades ter verdediging van die Heilige Hesigaste die lig gesien. En in 1341 is daar ‘n Raad van die Kerk in Konstantinopel belê waarin Gregorius en Varlaam met mekaar gedebatteer het oor die hesigasme op die basis van die Lig van die Berg Tabor tydens Christus se Verheerliking. Op 27 Mei 1341 het die Kerk Gregorius se posisie aanvaar dat God onkenbaar in sy essensie is, maar kenbaar is en ervaar kan word deur sy energieë – waarvan die ongeskape lig van die Berg Tabor ‘n voorbeeld is, en Varlaam se lering is as kettery verklaar. Varlaam is terug Italië toe, waar hy hom tot die Katolisisme bekeer het en ‘n biskop geword het.
Maar hiermee was die stryd nog lank nie klaar nie. Ons het ongelukkig nie tyd om die volle verhaal te vertel nie, maar Gregorius is onder ander ge-ekskommunikeer uit die Kerk en was vir drie jaar in die gevangenis. Hy is uiteindelik vrygelaat onder ‘n volgende keiser wat nie ‘n aanhanger van Varlaam se idees was nie, en as aartsbiskop van Thessaloniki gewy. Maar sy gemeentes het hom nie aanvaar nie en hy moes dikwels rondtrek vir sy veiligheid. Hy is tydens een van dié reise deur Turke gevange geneem en het vir ‘n jaar in gevangenisstraf moes rondswerf terwyl hulle hom probeer verkoop het.
Hy is maar 3 jaar voor sy dood uiteindelik terug na Thessaloniki. Op 14 November 1359 is hy oorlede met die woorde ‘Na die hemel! Na die hemel!’. Hy is slegs sewe jaar hierna tot heilige verklaar.
Hoekom moet ons van hom weet? Om minstens twee belangrike redes.
Die eerste is dat ons leef in ‘n tyd waarin teologiese debatte gevoer word uit die posisie van gesagsbronne wat as vas en onveranderend voorgehou word. Protestante sê Sola Scriptura, net die Skrif, en hou hulleself en God gebonde aan die woorde van die Bybel, tot uitsluiting van alle ander gesagsbronne. Katolieke sê die Skrif en die Tradisie wat die Pous se uitsprake insluit, waarmee hulle bedoel die Bybel en ‘n hele stel dogma’s en kerkreëls. Ortodokses sê die Skrif en die Tradisie, waarmee dikwels niks meer bedoel word as die Bybel en dit wat die vroeë Kerkvaders daaroor gesê het nie, asof dit ‘n addendum sou wees tot die Bybel en niks daarná verander het nie.
Gregorius Palamas is ‘n voorbeeld daarvan dat die Heilige Gees teenwoordig bly in die Kerk en dat God die waarheid in die Kerk bewaar. Want Gregorius het geleef ongeveer ses eeue ná die sewende en laaste ekumeniese Raad van die Kerk, en sewe eeue ná die laaste van die sogenaamde Vroeë Vaders van die Kerk. Maar toe die wese van die waarheid aangeval is met ‘n kettery, het die Gees weer iemand opgeroep om die waarheid te verdedig.
En ons moet onthou dat die Gees steeds leef, en steeds teenwoordig is in sy Kerk; en ook teenwoordig is in jou en in my. Laat ons daarom leef as lede van die Kerk, wat die waarheid van die Gees in ons harte ronddra.
Die tweede rede het te make met dit wat Gregorius Palamas geleer het. Die basiese proses van die hesigasme is natuurlik veel ouer as Palamas – mens kry dit die eerste keer in die geskrifte van mense soos Evagrius Ponticus, Johannes van die Leer en Maximos die Belyer, skrywers uit die vyfde tot die sewende eeue.
Maar Palamas het geleer hoekom dit sentraal staan tot dit wat die Ortodokse Kerk leer, naamlik dat God geken en ervaar kan word deur sy energieë; en dat die proses van hesigasme die pad is na die vereniging met God, van ons vergoddeliking. Dit is ook ‘n belangrike manier hoe die Oosterse Kerk se spiritualiteit van dié van Westerse Kerke verskil.
En omdat die hesigasme sentraal staan tot ons vergoddeliking, van teose, en van ons verlossing, is dit dalk belangrik dat ons net kortliks weer stilstaan by wat dit behels. Die einddoel van hesigasme is vergoddeliking, maar die doel van die proses van hesigastiese gebed is innerlike rustigheid (stillness), of stilte van die hart, om Kallistos Ware se woorde te gebruik.
Hoe bereik ons dit? Ek hoef nie vir julle te sê dat die basiese proses daarvan die Jesusgebed is nie. Maar ek het al dikwels gehoor dat mense sê dat hulle nie lekker vat kan kry aan die bid van die gebed nie. Dit raak lank en vervelig, en mens se gedagtes dwaal. En ek het nog min mense teëgekom wat werklik die verband insien tussen die bid van die Jesusgebed en die bereiking van innerlike stilte of vrede.
Dis daarom belangrik om te verstaan dat die herhalende bid van die Jesusgebed soos die voetstappe is van ‘n lang pelgrimstog, of soos klippe wat deur jare se herhaalde kappies teen ander klippe rond geskuur word.
Wanneer ek soggens langs die see loop en die Jesusgebed bid, tref dit my dikwels dat my gedagtes soos branders opwel en breek in my gemoed. Elkeen van die branders is ‘n passie – ‘n begeerte of ‘n vrees. Onthou maar dit: elke keer wat jou aandag op die Jesusgebed onderbreek word, kan jy maar gaan kyk, en jy sal ‘n passie van soorte aan die grond van daardie gedagte kry. Sommige dae is dit stormagtig in my see en kan ek skaars een keer die Jesusgebed bid sonder dat ek deur my gedagtes oorweldig word; sommige dae is laagwater en die see is stil. Maar die branders is maar altyd daar.
Tog het ek na jare se gebede agtergekom dat my gemoed wel rustiger is, dat ek meer vrede in my gemoed het, dat ek minstens meer bewus is van die branders van my passies in my hart.
En natuurlik is die Vastyd by uitstek ‘n tyd wat die perke op wat ons eet ons meer bewus maak van hoe onrustig ons hart is, ‘n tyd waarin ons onsself opnuut kan toespits en toewy op die gebed van die hart, en ‘n tyd waarin ons onsself opnuut kan herinner aan die nalatenskap van Gregorius Palamas, en kan onthou dat die Lewegewende Gees alomteenwoordig is en alles vervul – ook die see in ons harte.
Illustrasie: ‘n Ikoon uit die 15de eeu van die Heilige Gregorius Palamas, tans gehou in die Pushkinmuseum, Moskou.
Leave a Reply