Waar is ek nou?

Jy is op die tuisblad van Ortodoksie.co.za, die webblad van die Afrikaanse gemeentes van die Oosters-Ortodokse Kerk in Suid-Afrika.

Daar is vier gemeentes: in Robertson, Kaapstad, Bloemfontein en Johannesburg. Jy sal vir elkeen van dié gemeentes die besonderhede op die betrokke gemeente se landingsblad kry.

Op hierdie webwerf is daar ook talle Liturgiese en ander Ortodokse tekste, webjoernale, skakels na musiek en video’s, en sommer nog baie ander interessanthede oor die oudste Christelike Kerk – alles in Afrikaans.

Ons het beoog om met die webwerf ‘n hulpbron te skep vir die groeiende groep mense wat meer oor die Ortodoksie te wete wil kom.

Ons hoop dat jy jou besoek hier sal geniet; en jy is meer as welkom om enige van die priesters met navrae te kontak, of die navraagvorm in te vul.

Wat is die Ortodoksie?

Dis ‘n groot vraag met ‘n groot antwoord. Die Oosters Ortodokse Kerk is die oudste – die oorspronklike – Christelike Kerk, gestig deur Christus en die Heilige Gees met Pinkster. Haar priesters en biskoppe kan hulle wyding terugvoer na die wyding van die oorspronklike biskoppe van die Kerk in die eerste eeu.

Maar dis veel meer as net oud. Die leer van die Oosters-Ortodokse Kerk is onveranderd sedert die leer van die vroeë Kerkvaders in die eerste jare van die Kerk se bestaan. Ons bak geen teologiese mooibroodjies om “die moderne mens te bereik” of om die “Skrif vir hedendaagse tye te herinterpreteer” nie. Nee, ons lees die Bybel soos die vroeë Kerkvaders dit gedoen het, nie soos individue of kerkgroepe vandag “gelei voel” om dit te interpreteer nie. Die Kerk se geloofsbelydenis dateer uit die vierde eeu en die teks van die Liturgie uit die sewende eeu. Die leer van die Kerk het nie wesenlik verander sedert die agste eeu nie.

Maar die Oosters-Ortodokse Kerk is ook meer as net oud en konserwatief. Paul Evdokimov, ‘n 20ste eeuse Ortodokse teoloog, het gesê “die Ortodokse Kerk is die Christendom in sy mees diepgaande, mees geheimenisvolle en mooiste vorm; dit is die Christelikheid van skoonheid,” want ware skoonheid is ‘n openbaring van God. En dis ‘n sentrale Ortodokse waarheid dat dit net verwondering is wat enige-iets begryp, soos een van die vroeë Kerkvaders, Gregorius van Nyssa, gesê het.

Enigeen wat ‘n Ortodokse Liturgie bywoon, sal dit kan bevestig: daar is talle ikone teen die mure, die priester dra ‘n pragtige gewaad, die mense sing die grootste deel van die diens, word bewierook, en gebruik hulle hele lyf vir aanbidding. Die woorde van die gebede wat elke keer in die Liturgie gebid word, spreek tot jou hart en jou siel.

En nou praat die Ortodoksie ook jou hartstaal, Afrikaans.

Vr Jacques, Vr Johann en Vr Zacharias voor Bedehuis Bethanië se voordeur.
Tydens die Paasfeesvieringe by die Kapel van die Heilige Maria die Egiptenaar in Robertson.