Sal skoonheid die wêreld red?

Deur

Het julle geluister toe ons netnou gesing het?  “En ná Christus die besoedelde beeld tot die oerbeeld herstel het, het Hy dit met die Goddelike skoonheid verbind.”

Hierdie woorde herinner aan iets wat Dostoevsky gesê het: “Dit is skoonheid wat die wêreld sal red.”  Dis ‘n vreemde ding om te sê.  Wat is skoonheid, en watter nut het dit in die regtige lewe, wat nog te sê van om die aaklige ondermaanse te red?

Kom ek verduidelik só.  Hoe begin ‘n liefdesverhouding?  Met ‘n blik, met ‘n kyk.  Dit is wat ons sien wat ons betower, en laat begeer.  En dit is wat ons begeer wat ons verlei.  Eintlik is dit meer akkuraat om te sê dat dit die fisieke teenwoordigheid van iemand is wat ons bekoor en laat begeer: hoe sy praat, hoe hy lag, haar hande, sy voete, haar reuk, sy manier van loop. 

Hierdie teenwoordigheid wat ons betower en ons begeerte aanwakker, wat ons aantrek, het alles met skoonheid te make, want skoonheid betower ons.  Dit het ook alles met eros te make.  Wat is eros?  Die Griekse woord “eros” beteken “begeerte”, maar ook “liefde”.  Eros is die krag wat jou aantrek na die voorwerp van jou begeerte toe.

Wanneer die persoon wat die voorwerp van begeerte is daarop reageer, dan begin die proses, of die dans, van verleiding.  Want natuurlik kan die een wat begeer ook begeerlik wees, en kan die een wat verlei word, self verlei.

‘n Liefdesverhouding ontstaan dus só: ‘n ervaring van skoonheid wat betower; die ontstaan van begeerte daarna; die verleiding deur die voorwerp van liefde.  Laat ek tersyde oplet dat hierdie proses baie wyer strek as romantiese liefde: ons word verlei deur mense en gesprekke en boeke en musiek en karre en so aan en so aan.  Maar terug na begeerte en verleiding in  verhoudings.

Aan die begin van die proses, en dikwels vir ‘n hele wyle daarna, gaan dit bloot om begeerte.  Talle verhoudings kom nooit verby hierdie punt nie.  Ek begeer jou omdat jy my begeerte sal bevredig; en andersom: jy begeer my omdat ek jou begeerte sal bevredig.  Maar kom die res van jou menswees na vore en bots met myne, dan taan my begeerte, draai ek weg van jou en van die verhouding en gaan soek ek ‘n volgende voorwerp vir my begeerte.

Kom mens egter verby die aanvanklike struikelblokke van my morsigheid en jou opvlieënde geaardheid, van my onbetroubaarheid en jou swak selfbeeld, dan word my begeerte na jou uiterlike skoonheid gaandeweg omvorm na ‘n begeerte na jou innerlike skoonheid.  En mettertyd gebeur die wonderwerk: my blote eros, my eenvoudige begeerte, word omskep in ‘n liefde wat nie net begeer om te besit nie, maar begeer om myself op te offer aan die besit deur die geliefde, in agapé, of selfopofferende liefde.

In die Weste is ons geleer dat eros sleg is en agapé goed is.  Meeste van ons dink aan eros in die konteks van erotiek, van ongebonde sensualiteit en die branding van selfsugtige begeerte.  Maar dis nie wat die Kerkvaders leer nie.  Timothy Patitsas stel dit só:  “By eros we mean the love that makes us forget ourselves entirely and run towards the other without any regard for ourselves.  Allan Bloom describes eros as “love’s mad self-forgetting.””  Hierdie “madness” is die betoweringseienskap van eros, wat ons uitsinnig maak, wat ons van onsself laat vergeet en laat uitreik na die geliefde.

Juis in hierdie vergeet van die self lê die dryfveer van die liefde, die omvorming van eros na agapé.  Dit is Christus se waansinnige begeerte na ons – en as jy wonder oor die waansin daarvan, gaan lees Hooglied – wat Hom ‘n Mens gemaak het, wat Hom aan ons kom offer het, sodat ons Hom kon doodmaak en so tot die lewe kon terugkeer.

Wat het dit alles te make met die Sondag van Ortodoksie wat ons vandag vier?  Baie dinge, maar ek wil by net een ding stilstaan.  Ek het gesê skoonheid aktiveer verwondering en verwondering aktiveer eros, of begeerte.  Maar dit word nie in die lug gedoen nie.  Dit word gedoen deur ‘n teenwoordigheid.  En die wonderlikste, mooiste teenwoordigheid ooit is die teenwoordigheid van Christus.  Maximos die Belyer het gesê, “Christus, die mooiste onder die seuns van mense, omvorm hulle wat na Hom staar met die lig van sy heerlikheid.” 

Wanneer Johannes die Evangelis sê “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid,” dan is daardie heerlikheid ook ‘n oorrompelende skoonheid, ‘n skoonheid wat mense na Hom toe getrek het.  Ons het nie tyd om vandag se Evangelielesing in diepte te ontleed nie, maar dit is dié skoonheid wat die dissipels in verwondering gelaat het, wat hulle met “mad self-forgetting” alles laat agterlaat het en na Christus die Skone, die Aantreklike, aangetrek het met ‘n lewensveranderende eros.

Maar die skoonheid wat eros opwek, is nie net tot Christus beperk is nie.  Dit is ‘n skoonheid wat ook in die skepping is.  Sint Augustinus van Hippo het gesê, “Vra die skoonheid van die aarde, vra die skoonheid van die see, vra die skoonheid van die lug . . . hulle almal antwoord jou: ‘Kyk, ons is lieflik.’  Hulle skoonheid is ‘n belydenis van God.” 

In die Griekse teks oor die skepping is God se reaksie telkens dat God het gesien dat dit wat Hy geskep het, mooi was.  Die woord in die Hebreeuse teks beteken beide mooi en goed.

En dit strek verder as God se skepping.  Dit omvat ook die skepping deur mense met dit wat God vir hulle gegee het, van alles wat mooi is.  In elke mooi voorwerp is daar ‘n afskynsel van God wat ons siel aantrek.  Die Heilige Simeon die Nuwe Teoloog sê: “Wanneer ‘n mens die lig van God sien, word hy vervul met verwondering en roep uit: ‘Dit is die skoonheid waarna my siel gesmag het!’ “

Daarom het Paul Evdokimov in sy boek oor ikone met die veelseggende titel The Art of the Icon: A Theology of Beauty gesê, “die Ortodoksie is die Christendom op soek na skoonheid.”

En presies dit is hoekom ons ‘n mooi kerk moet hê en die mense wat voorgaan mooi gewade dra.  Dit is hoekom ons moeite doen met ons sang.  Dit is hoekom die groot Ortodokse digters, Dawid die Psalmdigter, Efrem die Siriër, Simeon die Nuwe Teoloog, Andreas van Kreta, en meer onlangs Nikolas Velimirovich en Siloan van Athos, terselfdertyd van die grootste teoloë van die Kerk is.  En dit is hoekom ons mooi ikone in ons Kerke het. 

Onthou die verhaal van die gesante van Prins Vladimir van Kiev wat van Bisantium af terug gekom het en gesê het “Ons het nie geweet of ons in die hemel of op die aarde was nie, want op aarde is daar nie sulke skoonheid te vinde nie.”  Dit was nie net ‘n estetiese ervaring nie, want die verslag gaan voort: “Ons weet daarom nie wat om te sê nie, maar een ding weet ons verseker: God woon daar onder die mense.”

Goed en wel, maar hoekom is dit nie alles net teologiese mooipraatjies nie?  Bo alles omdat liefde mooi is.  Dink ook na oor wat die Heilige Gregorius van Nyssa gesê het: “Die mens wat skoonheid liefhet volg die pad van liefde, want ware skoonheid is niks anders as God Self nie.”  God is natuurlik nie net Skoonheid nie, maar ook Liefde.  Die pad van eros vir skoonheid is daarom ‘n pad van liefde, en ‘n pad van liefde wat na God Self lei.

Dit werk andersom ook.  Dieselfde Gregorius het gesê “Die siel wat gereinig word, weerspieël gaandeweg die goddelike skoonheid, net soos ‘n spieël wat, wanneer dit afgestof is, die helderheid van die son weerkaats.”

Wanneer ons dus liefde bewys maak ons dinge en mense en onsself mooi.  Maar daar gebeur meer as ons omvorming na die aard van God.  Wanneer ons plekke en mense en onsself deur liefde mooi maak, ontlok ons verwondering en trek ons mense na God toe.  Laat ons daarom die skoonheid nie geringskat of minag nie.  Want dit sal inderdaad die wêreld red.

Aan die Bron van alle Skoonheid en van Liefde, die Drie-enige God, Vader, Seun en Gees van Skoonheid, kom toe alle lof en dank en aanbidding, van nou af en tot in ewigheid der ewigheid. Amen.

Kommentaar:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *