Saggéüs, klein van persoon, groot van hart.

Deur

Oor Saggeüs se verhaal het ek net ‘n paar los gedagtes.  So julle sal maar moet luister om te hoor wat vir elkeen van julle waar is.

Om mee te begin, kom ons plaas onsself in die breër konteks van die Kerkjaar.  Die Triodion – die drie weke wat die Groot Vastyd voorafgaan – begin ná volgende Sondag.  Hierdie Sondag is daarom elke jaar Sagéüssondag.  Dit lui ‘n tyd in van inkeer en sondebesef, maar ook van geestelike inspanning, van geestelike stroping en winterse stilte.  Dis teen hierdie agtergrond wat ons na Saggéüs se verhaal moet kyk.

Die mees voor-die-hand-liggende dinge wat ons van Saggéüs kan sê is dat hy ryk was en ‘n tollenaar, om die waarheid te sê ‘n hooftollenaar.  Die Romeinse owerhede, baie soos ons regerings vandag, het belasting ingesamel om alles te doen wat regerings moet doen, insluitende die bou van groot paleise en die verryking van amptenare.   Die Romeinse regering het dit gedoen deur plaaslike tollenaars aan te stel – in dié geval Jode.  Hulle was so gewild soos wat SARS is, maar meer so.  Want die Jode is deur die Romeine regeer en onderdruk, en die tollenaars was een van die gesigte van dié onderdrukking.

Verder is tollenaars ‘n fooi betaal vir hulle dienste, wat betaal is uit die belasting wat hulle ingesamel het.  En omdat daar nie ‘n plek was waar jy kon gaan kla as ‘n tollenaar jou verneuk nie, het die tollenaars dikwels hulle fooi aangevul deur óf te veel belasting in te samel, óf hulle fooie kunsmatig te verhoog – en dan die oorskot vir hulleself te hou. 

Saggéüs was dus ‘n gehate man, en met goeie rede, want hy was ‘n volksverraaier, gierig, ‘n bedrieër en ‘n boelie wat mense afgepers het.

Saggeüs was dus ‘n geïsoleerde figuur in sy gemeenskap.  Buitendien was hy “klein van persoon”, ‘n kort mannetjie.  En soos met kort mannetjies dikwels die geval was, het hy ‘n dryf gehad om homself te bewys.  Hy het hooftollenaar geword, en baie ryk. 

Maar natuurlik het dit nie sy isolasie en eensaamheid opgelos nie.

Saggeüs se eienaardigheid en uitgeworpenheid en die spanning tussen die weelde en wreedheid van sy bestaan is wat hom gedryf het om die vyeboom in te klim. Want vir ‘n hooftollenaar is dit tog ‘n eienaardige ding om te doen.  Dis iets wat ons gerus oor onsself kan onthou.  In die plekke van ons eienaardigheid en ons eensaamheid kan ons maar vir Christus gaan soek.

Die feit dat hy klein van persoon was is die rede hoekom Saggéüs in die wildevyeboom geklim het.  Maar die eintlike rede was “om Jesus te sien, wie Hy was”.  Wat beteken dit?   Blote nuuskierigheid?  ‘n Vae hoop dat hier Iemand was wat die leegheid en sinloosheid van sy bestaan kon verlig?

Ek dink nie dit was blote nuuskierigheid nie.  Want toe Jesus onder hom kom staan en vir hom sê, “Saggéüs, maak gou en klim af, want Ek moet vandag in jou huis bly”, het hy dadelik presies dit gedoen.  Saggéüs het gou uit die boom geklim en Christus met blydskap ontvang.  Dis nie die aksie van iemand wat uit blote nuuskierigheid wou sien Wie Christus was en vir wie dit om’t ewe was wat daarná gebeur nie. 

Maar daar is ook ‘n ander punt om te maak oor die ontmoeting met Christus; ‘n punt wat ek al ‘n paar keer gemaak het in ander kontekste maar wat ewe waar is hier.  Christus se ontmoeting met Saggéüs is nie bemiddel deur enige-iets nie.  Dis ‘n ontmoeting wat Saggéüs se hart raak, wat ‘n weerligstraal laat slaan tussen God se hart en sy kind, Saggéüs, die smerige, verwonde, aaklige kind Saggéüs, se hart.

Dit kan alleen gebeur as ons Christus raaksien vir “Wie Hy is”.  En ons moet geweldig versigtig wees, voortdurend versigtig wees, dat ons nie vir Christus net deur bemiddelaars – hetsy dit ander mense, of boeke, of Kerkdienste, of deur ons idees oor Hom – ontmoet nie. 

Want Christus is nie ‘n denksisteem nie.  Hy is ‘n Persoon, wat ‘n persoonlike reaksie en verhouding van ons verg.  As ons sy blik vermy, dan sal Hy ons nie forseer nie.  Maar as ons maar net een van die skare mense bly wat Christus sien verbygaan, sal ons lewe nie verander word nie.  Dan sal ons ‘n vyeboom bly wat nie vrug dra nie en uiteindelik verdor.

Vyebome word meer as 20 keer in die Bybel genoem, waarvan 7 keer in die Nuwe Testament.  Dis onder andere ‘n beeld van vrugbaarheid.  Een van die redes hoekom Christus die vyeboom in Mattheus 21 vervloek het om te verdroog, is juis omdat die vyeboom ‘n simbool is van vrugbaarheid; en dié vyeboom was niks meer as die simbool wat dit voorgegee het om te wees nie.

Maar Saggéüs, wat op ‘n manier uit die vyeboom geval het soos ‘n ryp vrug, wys dat sy ontmoeting met Christus tot ‘n ware bekering gelei het – een wat nie net ‘n sondebelydenis is nie, maar ook een wat vrug dra in dade van restitutisie en barmhartigheid.  Dit is natuurlik die toets ook vir ons bekering – dit lei nie net tot die belydenis van ons sondes nie, maar ook tot die herstel van dit wat ons sondes beskadig het, en ook tot praktiese uitinge van liefde.

Ons gaan die Groot Vastyd tegemoet.  Dis ‘n tyd vir in die wildevyeboom klim, bo ons omstandighede uit, sodat ons vir Christus kan sien, wie Hy is.  Saggéüs het dit gedoen omdat hy gesien het Christus kom daar verby.  Ons kan ook met geloof die vyeboom van die Groot Vas- en Barmhartigheidstyd inklim, want ons weet ook dat Christus daar sal verbykom.  Laat ons vir Hom uitkyk.

En as ons Hom sien, laat ons gou uitklim en Hom met blydskap in ons hart en ons huis ontvang, en dan begin lewe soos mense vir wie Christus in die oë gekyk het en gesê het, “Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep, jy is myne!”

‘n Laaste punt.  Ek het onlangs met Vr Jonathan Proctor gepraat oor ‘n ding waaroor ek God se wil gesoek het.  Ek het hom vertel van al die praktiese dinge wat ek oorweeg en herkou; hy het my geantwoord dat ons die wil van God moet gaan soek “in the grace of the details”.  God se genade is reeds in die besonderhede van ons lewens.  Ons kan daarom die Groot Vastyd tegemoetgaan met die wete dat dit ons sal toelaat om daardie genade met groter duidelikheid te sien.  En dat as ons mooi kyk, ons Christus onder die boom sal sien staan, soekend of Hy nie ons oog kan vang nie en met ons praat nie.  Want soos met Saggeüs het hy ‘n begeerte, nee, ‘n behoefte – let op dat Christus sê “Ek moet“- om in ons huis te kom oorbly.

Aan Hom al die eer, tesame met sy beginlose Vader en die Lewendmakende Gees.  Amen.

Kommentaar:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *