+
“Wat weer sal kom met heerlikheid
om te oordeel die lewendes en die dooies…”
Ek wil begin by die onlangse ontwikkelinge rondom die Oekraïniese konflik, en mense se reaksies op wat Amerika aan die doen is. En nee, hierdie is nie ‘n politieke praatjie nie. Die visepresident van Amerika kom by Munich se sekuriteitskonferensie aan en sê vir die Europeërs dat hulle waardes nie meer ooreenstem met Amerika sin nie. Dan gaan Amerika heen en knoop onderhandelinge met Rusland aan sonder om skynbaar hoegenaamd in ag te neem wat Europa en Oekraïene van die hele besigheid dink.
En Europa se reaksie is: “Julle kan nie dit doen nie!” Hoekom nie? As jy mooi luister kom die Europeërs se reaksie daarop neer dat “Want dit stem nie saam met die narratief wat ons die afgelope paar jaar vir mekaar vertel het oor wat in Europa en Oekraïene en Rusland aan die gebeur is nie, en julle kan nie nou kom en skielik die masker afruk en sê dat die waarheid eintlik iets heeltemal anders is nie.”
Plaas mens natuurlik Amerika se nuwe “waarheid” onder die vergrootglas, dan blyk dit baie vinnig dat dit maar net nóg ‘n masker is, waaragter hulle dit wat hulle eintlik wil doen, aan die wegsteek is. En luister mens na politieke kommentators oor wat aan die gang is, bestaan ‘n groot deel van wat hulle sê daaruit om te probeer vasstel wat eintlik agter die maskers en die leuens van die politici aan die gang is.
Is hierdie alomteenwoordige maskers en leuens beperk tot die politiek? Natuurlik nie. Almal van ons dra ‘n masker, ‘n openbare persona, ‘n beeld wat ons wil hê mense moet sien as hulle met ons te make kry. Meeste van ons dra veelvuldige maskers; en ons dra selfs maskers in ons omgang met onsself. Ons doen dit omdat ons nie weerloos en behoeftig wil voorkom nie, omdat ons nie die vernedering van ons lyding met ander wil deel nie.
Hierdie maskerade het die afgelope paar dekades ontaard in ‘n wêreld waar voorkoms min of meer alles is. Met die koms van sosiale media het ons maskers die fotos en videos geword wat ons vir mekaar wys, en die ikoontjies en skuilname wat ons gebruik in ons omgang met mekaar, in die gedurig verskuiwende spieëls en sluiers van die sogenaamde “virtuele werklikheid”. En in al hierdie gevalle is daar ‘n verskil tussen dit wat die masker voorhou en dit wat ons in ons hart der harte weet die waarheid is.
Ons reageer op mekaar en ons eie maskers asof dit die werklikheid daarstel. Ons het verhoudings met maskers, dikwels omdat dit nie moontlik is om by die werklike mens uit te kom nie; en ewe dikwels omdat ons onsself nie meer van ons openbare masker kan of wil skei nie.
Ons gaan so ver as om die normale liefdesverhoudings tussen mense te verskraal tot beelde van ‘n anonieme toneelspel wat die geslagsdaad uitbeeld, sodat ander mense hulle daarin kan verlustig, sonder dat hulle enige interaksie met ‘n werklike mens het.
Die een ding wat vandag se Evangelielesing sê is dat daar ‘n dag sal kom wanneer al hierdie maskers afgeruk sal word en ons gekonfronteer sal word met die waarheid van hoe en wie ons werklik is; en hoe en wie ander mense werklik is. Die waarheid sal as waarheid ontbloot word en die leuen as leuen.
Maar die Evangelielesing sê ook dat dit gedoen sal word op ‘n manier wat vir almal verassend sal wees. Daar sal iets onbekends onthul word, iets wat nóg die skape nóg die bokke geweet het. Want Christus sê dat die werklikheid oor mense versluier is. Mense is inderdaad nie hoe hulle voorkom nie, maar nie op die manier hoe ons dink nie.
Want óns gedagtegang met ons maskers op is dat mense slegter is as wat hulle voorkom. Maar nee, sê Christus: die hongeres, die dorses, die vreemdelinge en haweloses, die naaktes, die siekes, die gevangenes – al die mense wat nie meer ‘n masker kan ophou oor hulle behoeftigheid en ellendigheid nie – hulle is Christus self.
By hierdie waarheid moet ons ‘n oomblik stilstaan, want ons moet oppas om nie ‘n beeld te skep wat nie die werklikheid weerspieël nie. Elkeen wat al probeer het om hulp aan mense te verleen, sal weet dat agter die lelike, dikwels stinkende, behoeftige mens voor jou, skuil daar ‘n sondige, eiewillige, onvolwasse, dikwels kriminele mens; en as jy hom ‘n halwe kans gee, sal hy jou misbruik. Anders gestel: die mense wat ons hulp die nodigste het, is dikwels die ondankbaarste; is dikwels – as hulle naby aan ons staan – die mense wat ons die diepste seermaak.
So wat bedoel Christus dan daarmee dat dit diens aan juis hulle is, wat diens aan Christus is?
Ek wil vir julle die teks van twee van die troparia wat ons gister met Allersielesaterdag gesing het, aanhaal:
U wat my eens geskep het uit niks
en my met u goddelike beeld vereer het,
en my weens die oortreding van die gebod,
laat terugkeer het na die aarde waaruit ek geneem is;
bring die gelykenis weer in my terug
en hervorm my tot die oorspronklike skoonheid.
En:
Ek is die ikoon van u onsegbare heerlikheid,
al dra ek ook die wondetekens van my foute.
Wees medelydend, Meester, met u skepsel,
en reinig my in u goedhartigheid.
Skenk my die vaderland van my verlange
en maak my weer ‘n burger van die Paradys.
Die behoeftiges is soos ons. Hulle is geskape na die ewebeeld van God, al dra hulle ook die wondetekens van hulle foute. Kom ons kyk bietjie na dié teenstelling.
Die behoeftiges dra, soos ons, ook maskers. En ons weet in ons hart hoekom ‘n masker nodig is: dis omdat die ware mens agter die masker afskuwelik is, skuldig is, beoordelenswaardig is. En ek kan net begin saamleef met myself wanneer die “ek” agter die masker liefde ontvang, wanneer my honger en dors en my ander behoeftes vervul word ten spyte van myself. Dit is wat Christus kom doen het. Hy het vir ons liefde kom bewys en Homself vir ons kom opoffer toe ons nog sondaars was.
Om die waarheid te sê het Hy ‘n skaap ter slagting geword onder my hande en onder jou hande. Dis ek en jy wat die géselsweep geswaai het; dis ek en jy wat die spykers ingekap het. Dít is die werklikheid van Christus se liefde aan ons en van die mens agter die masker.
Maar die teenkant van die munt is dat dit nie die enigste werklikheid is nie. Want wanneer die ware ‘ek’ liefde ontvang, word dit moontlik vir die oorspronklike skoonheid om stadig en onseker herstel te word. Maar daarvoor is dit nodig dat ons deur die masker en deur die behoeftigheid moet kyk om die oorspronklike skoonheid te sien, om te sien dat die behoeftige voor ons Christus versluier.
‘n Laaste punt. Dis natuurlik goed om te verstaan wat in hierdie woorde van Christus aangaan. Maar in die finale instansie sal Christus se oordeel gebaseer wees op praktiese liefde, op die vervulling van mense se fisiese behoeftes. Christus het fisies op die aarde kom loop en leef en sterf. Die skape sal die mense wees wat fisiese liefdesdade aan die behoeftiges gedoen het; die bokke sal mense wees wat versuim het om liefde prakties uit te leef.
Laat ons in die Lydenstyd daarom praktiese goed vind om aan die see van behoeftiges om ons te doen, ter wille van die waarheid dat ons dit aan Christus doen.
Leave a Reply